Ex oriente lux: die lig kom uit die Ooste. Hierdie uitdrukking, wat gewild was by die alchemiste en teosowe gedurende die Renaissance, is ’n goeie illustrasie van die fassinasie wat die Oosterse mistisisme op die Westerse mentaliteit uitoefen. Hierdie fassinasie is grootliks verantwoordelik vir die ontstaan van die Gnostiese beweging in sowel sy antieke as moderne vorm.
Gnostisisme is ’n mistieke godsdiens en filosofie wat elemente bevat van onder meer die okkultisme, Oosterse mistisisme, astrologie, toordery, Judaïsme, Christelike leer, Griekse filosofie en selfs Zoroastrisme.
Die term Gnostisisme is afgelei van die Griekse woord “gnosis” wat kennis beteken. Gnostisiste glo dat die mens se siel, wat deel is van die godheid of Gees van die Godheid, in die fisieke wêreld vasgevang is en net daaruit kan ontsnap en na sy goddelike oorsprong kan terugkeer deur spesiale kennis (gnosis).
Die Gnostisisme het in die tweede en derde eeu ná Christus ’n bloeitydperk in onder meer Iran, Palestina, Sirië en Egipte beleef, maar het mettertyd veld verloor na teenkanting van die Rooms-Katolieke en Ortodokse Christelike Kerk. In die twintigste eeu het belangstelling in die Gnostisisme weer opgevlam na die ontdekking van ou Gnostiese geskrifte naby Nag Hoemmadi in Egipte.
Die genoemde fassinasie was reeds aanwesig in die sesde eeu voor ons era, in die teogonieë wat opgestel is onder die invloed van die Orfiese leerstellinge (afgelei van die mitiese figuur Orfeus). Hierdie teogonieë, of mitiese verhale oor die geboorte van die gode, verskil heelwat van die van Hesiodus, wat die godehemel van die Griekse mitologie in die agste eeu voor ons era georganiseer en geklassifiseer het. Die Orfiese teogonieë het te veel Asiatiese elemente bevat om as Grieks beskou te kon word. Tog bring hulle klem op filosofiese en wetenskaplike kwessies, hul subtiliteit, asook die groot getal abstraksies meen egter dat hierdie teogonieë eerder as metafisiese sisteme as mitologieë gesien moet word.
Die mite van Dionysus, in sy verskillende weergawes, sou van groot eksistensiële belang word as die ander voedingsbron van die Gnostisisme. Dionysus is oorspronklik die landelike god van wyn en, by die Oosterlinge, ook van orgiastiese ekstase. Die Franse filosoof, Jean Brun, skryf soos volg in sy werk “Die terugkeer van Dionysus”: “Die dronkenskap van Dionysus poog om aan die liggaam van ’n ieder en ’n elk die mag te verleen om rond te swerf buite die raamwerk van die hier en die nou wat aan ons toegeskryf is; dit is die rede waarom, binne die Dionysus-kultus, duiseligheid so ’n belangrike rol speel: hiermee word gepoog om iemand van homself los te maak wanneer hy homself oorgee aan die warrelwinde wat hom verswelg in ’n oseaan van onbeperkte sensasie waar al die sinestesieë ter sprake kom. Dionysus beloof die uitbreiding van die self tot aan die wêreldgrense en gee voor om die beklemmende lyflike tronk waarvan elke mense ’n gevangene is, te vernietig deur hom die ekstase van ’n ewige lewe te laat smaak. So word Dionysus, meester van die tyd en die ruimte, die evangelis van ’n kosmiese sensasie.”
Later sou Dionysus die hoof word van die Orfiese godehemel en die terugkeer van die dood na die lewe simboliseer, en met sy vertrek, die ewige lewe. Volgens hierdie mite: Dionysus-Zagreus is die seun van Zeus en Demeter. Die Titane, wat vir baie Heidene die stormagtige kragte van die natuur simboliseer, het hom ter dood veroordeel op aandag van Juno, wat jaloers was op Demeter, en sy liggaamsdele in ’n pot gegooi. Die godin Pallas-Athena het egter daarin geslaag om die nog kloppende hart van die slagoffer uit te haal en dit dadelik na Zeus geneem, wat die Titane met weerlig getref het en Dionysus uit die kloppende hart geskep het. Die liggaamsdele van Zagreus is aan die voet van die Parnassusberg begrawe en Zagreus het ’n god van die onderwêreld geword waar hy die siele van die dooies verwelkom en hulle met hul suiweringsproses help.
Met hierdie laat weergawe van die Dionysus-mite kom ’n dualisme na vore tussen die verhewe deel van die menslike wese (die hart, wat Zeus gebruik om Dionysus te laat herlewe) en die ondergeskikte deel (bestem vir die doderyk).
Wat die Dionysus-mite so interessant maak in sy Orfiese weergawe, is die onderliggende mensbeskouing, wat ons nader bring aan die Gnostisisme: wanneer, aan die begin van die gode se lewens, Dionysus deur die Titane doodgemaak word, val daar deeltjies van sy goddelikheid op menslike liggame, sodat die menslike liggaam opgeroep word tot die gevangenisskap van die siel (by uitstek ’n Platoniese gedagte). In hierdie lyflike tronk moet die siel die siklusse van die tyd deurstaan. Alleenlik die ingewydes, wat op ’n regverdige wyse lewe vind hulle heil, terwyl die goddeloses verdoem is tot ’n ewige sielsverhuising en selfs helse straf.
Sowat vyftien eeue na die skemer van die antieke Gnostisisme beroep verskeie “New Age-ghoeroes” hulle weer op hierdie Gnostiese erfenis.Dit gaan hierdie slag egter nie meer oor geïsoleerde bewegings nie, maar oor ’n ware herlewing van die Gnostisisme. Time Magazine het die voorblad van sy 22 Desember 2003-uitgawe gewy aan Verlore Evangelies, en in die binneblaaie ’n artikel gepubliseer wat oor Gnostiese tekste handel en ’n band bewerkstellig tussen die kultusfilm The Matrix, met sy tipiese Gnostiese raamwerk en die topverkoper The Da Vinci Code van Dan Brown. Volgens Brown sou heilige tekste wat geïgnoreer of tot die skadu’s verdoem is, deel uitmaak van die geheime tradisie wat Leonardo da Vinci in sekere van sytekeninge oorgedra het.
Sommige vorme van die moderne Gnostisisme neig egter meer na ’n filosofie as ’n godsdiens omdat die klem grootliks daarop val dat die individu hom kan bevry of verbeter deur kennis van homself en die heelal waarin hy leef. In wese is die tradisionele Gnostisisme egter ’n godsdiens, aangesien die godheid, en die mens se verhouding met Hom/Haar, ’n sentrale rol daarin speel.
Die Gnostisiste glo dat God ’n Almagtige Opperwese is wat Hom/Haar nie noodwendig ophou met mense en die aangeleenthede van hierdie wêreld nie. Hy/Sy kan as dualisties (tweeslagtig) beskou word, aangesien Hy ook ’n vroulike kant het wat Sophia genoem word en die Wyse Gees van die Godheid is. Volgens die Gnostisiste wou Sophia graag ’n wese soos Syself voortbring, maar Sy het nie God (die manlike kant) se toestemming daarvoor gehad nie. Sy het nogtans daarmee voortgegaan en die lewe geskenk aan ’n kind wat die Demiurge genoem word. Die Gnostisiste glo dat die Demiurge dieselfde persoon is as Jehova, die Christelike en Judaïstiese God van die Ou Testament, en dat hy terselfdertyd ook die Satan is van die Nuwe Testament - perfekte dualiteit wat lig en duisternis simboliseer en baie ooreenkomste deel met die sieninge van dualiteit in moderne Heidendom.
Die woord Demiurge is afgelei van die Griekse demiourgós, Latyns demiurgus. Dit beteken in klassieke Grieks “ambagsman” (letterlik “werker in die diens van die volk”, afgelei van demios en dêmos “die volk” + ergon “werker”). Die Demiurge is vir die eerste keer omtrent 360 voor ons era. in Plato se werke as ’n goddelike wese beskryf.
Plato gebruik die term om na die welwillende skeppergod te verwys wat hy in sy werk Timaeus as die skepper van die wette of die hemel of as die skepper van die wêreld beskou het. Die Neoplatinis Plotinus het die Demiurge as nous (die goddelike gees of intellek) geïdentifiseer, die eerste uitstraling van die “ene god”. Neoplatiniste het die Demiurge ook as die oppergod Zeus gepersonifiseer.
Omdat Sophia die Demiurge uit Haarself gemaak het, was ’n deel van die Gees steeds in hom. Die Demiurge het dié krag van die Gees gebruik om die fisieke wêreld te maak. Daardeur is hy, sowel as ’n deel van die Gees, in die fisieke wêreld vasgevang. Die Gnostisiste glo dus dat die Demiurge die skepper is van hierdie wêreld en dat hy deur hierdie skepping ’n deel van die godlike Gees hier vashou en verhinder om terug te keer na die hemelse gebied (pleroma). Hierdie goddelike Gees kom voor in alle materie, maar veral in die mens.
Die enigste manier waarop die individuele mens (of te wel sy gees) bevry kan word van die Demiurge en sy gevangenskap in hierdie wêreld en na die geestelike wêreld kan terugkeer, is deur geheime kennis te bekom oor homself en sy geestelike identiteit. Hierdie kennis is nie rasionele of logiese kennis soos wat mens kan opdoen deur die studie van wiskunde of natuurwetenskap nie. Dit is eerder ’n intuïtiewe of terugwerkende kennis wat verkry word deur die mens se innerlike self te bestudeer.
Die meeste antieke en moderne Gnostiese groepe glo dat die opperwese ’n spesiale boodskapper of boodskappers na die Aarde gestuur het om die gnosis, of kennis wat tot verlossing lei, met mense te deel. Omdat die meeste antieke Gnostisiste hulle as Christene beskou het, het hulle Jesus Christus as dié boodskapdraer gesien. In die nie-Christelike Gnostisisme word die Egiptiese god Set, die profeet Zoroaster of een van verskeie mitologiese wesens soms as die Goddelike Boodskapdraer beskryf.
Tot voor die tweede helfte van die twintigste eeu was daar net enkele oorblywende Gnostiese geskrifte soos Herder van Mense, Asclepius, Kodeks Askewianus, Kodeks Brucianus, Odes van Salomo, die Evangelie van Maria, die Geheime Evangelie van Johannes en die Gesang van die Pêrel bekend. Bykomende inligting oor die Gnostisisme is verkry uit geskrifte van mense soos Irenaeus (130-200 voor ons era), Terullianus (160-225 voor ons era) en Hippolitus (170-236 voor ons era), wat Gnostisisme gekritiseer en as ’n godslasterlik beskou het.
In 1945 het Mohammed Samman, ’n kameeldrywer van el-Kasr in Egipte, saam met sy broer nitraatryke grond naby die dorpie Nag Hoemmadi gaan uitgrawe wat hulle as bemesting in hul landerye wou gebruik. Tot hul verbasing kom die twee toe op ’n kleikruik vol antieke geskrifte. Die broers se fonds het direk aanleiding gegee tot hernieude wêreldwye belangstelling in die Gnostisisme, aangesien dit sover bekend die volledigste versameling Gnostiese literatuur bevat wat vandag beskikbaar is. In die kruik was 53 (sommige bronne sê 50) antieke Gnostiese geskrifte in die Koptiese taal wat waarskynlik in die vierde eeu voor Christus deur monnike van ’n nabygeleë klooster daar begrawe is. Hierdie geskrifte, wat later as die Nag Hoemmadi-versameling bekend sou staan, word vandag beskou as die Gnostiese Evangelies.
Maar in watter mate stem die Gnostisisme van die antieke tyd en die amorfe groepering van moderne Gnostiese herlewing ooreen?
Albei is breë groeperings van bewegings wat grootliks van mekaar verskil, maar gefokus is op enkele idees, waarvan die belangrikste soos volg is: Kennis van God is Kennis van die Self, wat lei tot die bewuswording van die Self se Goddelikheid. Hierdie bewuswording is eintlik die openbaring van ’n vorige, vergete staat. Die stoflikheid van die wêreld het daartoe gelei dat hierdie besef in vergetelheid versink het. Die stoflikheid dui op ’n beperking van die goddelike wese. Albei strominge word gekenmerk deur ’n sterk sinkretisme, wat hom beywer vir die vereniging van Oosterse en Westerse elemente.
Die begrip van sonde en die noodsaak van ’n versoenende offer word ontken. Etiek en persoonlike verantwoordelikheid is eerstens op die self gerig. Dit gaan naamlik daaroor om die Godelikheid in jouself te vind en nie buite jouself nie.
Wat verskille betref, kan ’n mens opmerk dat die a-kosmiese aard van die antieke Gnostici skynbaar weerspreek word deur die dominante panteïsme van die moderne weergawe. Die hedendaagse Neo-Gnostisisme erken ook nie ’n demiurge wat met Jahweh geassosieer word nie. Soos met die Boeddhisme, is daar nie ’n skeppingsdaad nie, maar ’n ewige kosmos waarbinne wesens in oorgang is volgens ’n opwaartse beweging.
Die oorsig van twee godsdienstige bewegings wat aan die een kant die eerste eeue van ons era kenmerk en aan die ander kant ons tydperk tipeer (met heelwat verbindinge tussen die twee), asook die gemeenskaplike trekke wat hulle saambind, kan egter lei tot ’n bevraagtekening van die godsdienstige essensie van die Gnostisisme.
Die Gnostisisme, wat diepgaande vrae stel oor die oorsprong van die heelal, die bose, die wese en die lotsbestemming van die mens, asook oor die wese van God/Godin en die verhouding van die mens met God/Godin, kan egter nie beskou word as ’n verbygaande beweging van die godsdienstige denke nie. Sy hedendaagse herlewing, te midde en ten spyte van die uitbreiding van moderne wetenskaplike kennis, bewys dat die fundamentele vrae wat dit vra en die ooreenstemming van die antwoorde wat dit bring, sentraal staan in die menslike bepeinsing oor die lewe.
Dus, hoewel Gnostisisme wel van belang vir Heidene is, veral as ’n studieveld en weens die se geskiedkundige waarde, is die verskille tussen hierdie filosofie en Heidendom aansienlik. Heidene glo dat die heelal reeds perfek is, en daarom word die Aarde en die Natuur as heilig beskou, en bestaan die soeke na verlossing in die vorm van gnosis dus nie werklik nie.
(PS: In hierdie artikel gebruik ek Heidendom en Heiden, en nie Paganisme en Paganiste nie, vir die eenvoudige rede dat die woorde Paganisme en Paganiste my hare laat opstaan!)
(BRONNE: http://www.gereformeerdenafrikaans.co.za; Wikipedia;
La gnose au premier siècle de l’Église deur A Benoit en M Tardieu; Le retour de Dionysos deur J Brun; Encyclopedia of Mythology; Gnosis. The Nature & History of Gnosticism deur K Rudolph; http://starweaverwitch.wordpress.com/2008/03/31/gnostics-and-pagans/; http://newage.suite101.com/article.cfm/gnostic_and_pagan_worldview)